Geseende Paasfees?

Geseende Paasfees?

Ons preek vanoggend het verwys na die Kruis as Jesus se Kroon; beeldspraak wat ek al ‘n paar maal teëgekom het.

Dit beklemtoon Jesus se karakter en keuse so mooi; Jesus het aktief deelgeneem aan die kruisiging tot en met Sy laaste asem. Nie net verduur of toegelaat nie –  aktief help doen; want Hy het geweet wat dit beteken.

Dit het my baie laat dink aan hoe konings hulle kronings vier. Wat doen hulle by die partytjie? Ek meen, verjaarsdae blaas ons kersies, doop gebruik ons die water, nagmaal gebruik ons die wyn en brood, Kersfees trek ons vir ‘n boom ‘n bellydancing costume aan vir een of ander rede … wat doen hulle met ‘coronations’?

Daar is vreugde en voorbereiding, mense kom van ver, daar is ‘n groot seremonie – maar ek wou weet, wat doen die koning self? Die naaste aan hom of haar, hoe vier hulle dit?

Ek het Paasfees vir ‘n oomblik anders gesien – dis Sy partytjie! Ja, Hy is gekruisig vir ons, Hy is opgestane Heer en dit is kosbaar. Maar – hierdie is die dag wat Hy gekroon is, die dag wat die belofte in vervulling gegaan het: Hy het hierdie oomblikke in Sy hand.

Hy sal alles wat stukkend is kom heelmaak. Die ’94 verkiesingsuitslae, 9 Nov 1989 toe die muur geval het, 8 Mei 1945 toe WW2 gewen is… al daardie datums vervaal in vergelyking hiermee.

Vandag, ‘n paar duisend jaar gelede, is die enigste Koning wat waarlik omgee en weet wat Hy doen, gekroon. Hy leef en Hy is Koning en Hy gaan sy troon hier kom opeis – Hy het belowe, met bloed.

Ek het gaan navors wat doen die Britte, wat doen Europa, wat het David gedoen (en weird goed oor die Ark gelees waaraan ek nog kou) en ook besef dat Jesus self deur die strate in gery het op ‘n donkie.

“Al sien julle My vir ‘n kort rukkie nie, daarna sien julle My weer.”.

Dit blyk dat meeste konings en mense wat dit saam hulle vier, dit vier deur die strate in te loop en dit vir ander te vertel en wys.

Bloos. Klink nogal bekend (Mat 28:16-20).

Is dit nie wat ek veronderstel is om reeds te doen nie? Wanneer het ek vergeet ‘n lewe wat die Evangelie verkondig is ‘n fees? Was dit toe ‘n dief dit kom oppik het voordat dit kon ontkiem? Of dalk toe die saad se wortels nie kon plek kry op die klipbank van my hart nie? Miskien was dit gereed om te blom maar ek het die onkruid nie dopgehou nie. Wanneer het ek vergeet – daar is vreugde ook in die Kruis?

Malcolm Gladwell het ‘n boek geskryf “What the dog saw”; dit handel oor die belangrikheid van ander se perspektief; almal is belangrik en het waarde, selfs die hond. Wat het mense hierdie week gesien as hulle na my kyk. Lig?

Kyk ek sê nie smile soos die mannetjie nie. Jy mag – jy is veronderstel – om te sê dit gaan swaar; deel dit, bring dit na die lig en liggaam toe. (Spreuke 15.22; Galasiërs 6.2).

Van God se mees getroue volgelinge het hiermee gestruwel. Job, Moses, Elia, Asaf, David.

David, die man so na die Hart van God. Moses en Elia, wat saam met Jesus op die berg gestaan het (Mat 17:9).

John Lockley het geskryf;

“Being depressed is bad enough in itself, but being a depressed Christian is worse. And being a depressed Christian in a church full of people who do not understand depression is like a little taste of hell.”

Ons het die VOLLE spektrum van emosies van die Vader ontvang en hulle is ons alarmstelsel. Hulle kan net nie ons kompas word nie. Dit gaan swaar met mense. Hoe meer mense ek mee praat, hoe erger klink 2024 (2020 het ons ten minste 12pm in ons pajamas laat sit en fliek kyk, terwyl ons roomys uit die bak met die soplepel geëet het).

Maar wanneer dit swaar gaan; sien ander hoe ek dit met hoop en waardigheid dra? Sê my gedrag en woorde dat dit okay is wanneer dinge nie okay is nie? Wanneer dit goed gaan, sien hulle dankbaarheid of arrogansie?

Partykeer sleur die lewe se stroom ons so ekstra bietjie verder mee – die diepsee in. Dit is gewoonlik in hierdie seisoen wat die mense wat vir jou omgee verduidelik dis sodat jy kan leer om op die water te loop – iets wat moeilik is om te hoor terwyl jy seewater by jou neus uitblaas. Soms is dit waar, ander kere nie; ons soek mening in pyn en ons mag. God veroorsaak dit nie, maar Hy sal dit nie mors nie.

‘n Paar mentors het my dit geleer; “Jesus en ander geloofshelde was martelaars vir ‘n doel, maar nie almal is martelaars nie“, of “ons is lewende offers, nie brandoffers nie”.

Dis waar. Ons mag mening soek as die swaar kom, maar dit kom nie van God nie (Jakobus 1:17).

Dis nie ons erfenis, of God se hart nie (Johannes 10:10).

Wanneer dit swaar gaan, kry ons die geleentheid om te kies – sal ons kies om soos kinders van God te lyk, daaraan dink en vashou as ons identiteit?

Die Bergpreek (Mat 5:1-16) leer ons hoe dit lyk, nie as gevolg van nie, maar ten spyte van. Vredemakers bestaan nie tensy vrede ontbreek nie. Om te honger en dors na wat reg is, meen tog dat daar ‘n afwesigheid daarvan is.

Maar dit verander nie die beskrywing van wie ons is nie, dit bevestig dit eerder. Kinders van die lewende God, as gevolg van die Kruis (Johannes 1:9-18).

Lig en sout. Die Bruid. Die Boodskappers.

(Song of Songs 7, TPT)

1How beautiful on the mountains
are the sandaled feet of this one bringing such good news.
You are truly royalty!
The way you walk so gracefully in My ways
displays such dignity.
You are truly the poetry of God — His very handiwork

https://www.bible.com/bible/1849/SNG.7.TPT.

Hoe loop ek deur die strate? Vertel ek vir mense, smile ek oor die nuwe koningsheerskappy? My ma sê baie, “mens moet jou sin vir humor behou”. Kan ek nog lag en die mooi nie net raaksien nie, maar ook vir ander wys – selfs as die vyeboom nie bot nie? Of dalk heeltemal afgekap word?

Wanneer die lewe oorweldigend is, lig ek die Here se standaard op teen dit? (Jes 59:19)

Onthou ek Sy beloftes dat ons behoue sal bly?

(Jes 43:2, Hand 27:22-25)

Ons Koning regeer – maar ons moet nog die land in besit neem (Joshua 1:1-9, Joshua 6:6-7). Ons wapens is nie van vlees en bloed nie (Efesiërs 6:12), ons veg op ons knieë (Exodus 14:14, 2 Kronieke 20:1) en God is met ons (Deut. 31:6, John 14:18-31).

Maak nie ‘n fout nie, jy loop ‘n stad se strate in waar die vyand nog lewendige ammunisie het (Mat 10:16, John 16:10-11).

Ons lig skyn vir die wêreld, wanneer ons die kleipotte (2 Kor. 4:7-17) breek sodat die lig deur ons gesien kan word en die vyand verbeister (Rigters 7:19).

Die belofte was nie dit gaan maklik wees nie, maar dat dit die moeite werd sal wees (John 16:33).

Dit is net die begin van die storie:
Genesis 2:10 teenoor Openbaring 22:1 is een stroom lewende water, die belofte van herstel van die Tuin, die Verhouding, die Oorspronklike Ontwerp.

Die Kruisbelofte was dat die beste nog kom (Openbaring 22:3-7).

In tussen

As for me and my house, we shall serve the Lord.

(Joshua 24:15)

Geseënde Paasfees vir elkeen van julle.